Kinderkerk

Sondae kan plesierig wees

Vra net ‘n bietjie vir een van die 350 kinders tussen die ouderdomme van 5 en 12 wat Sondae op Robertson Kidzchurch (die Kinderkerk) bywoon. Drie busse word gebruik om hierdie kinders by verskillende vasgestelde plekke op te laai in Robertson en omgewing.

Om 10.45 begin ons vrolike, opwindende tweede diens met iets om die leë magies te vul. Wanneer die kinders om 11:00 by die deure instap, word hulle begroet deur lewendige musiek en die vriendelike gesigte van die span van Kidzchurch.

Tydens lofprysing loof honderde kinders die Here, en dit is ‘n geleentheid wat ‘n mens nie kan misloop nie. Elke Sondag kom verskillende verspotte karaktertjies vir ons kuier, en ‘n mens moenie te verbaas wees as jy vir Tarzan of Superman daar raakloop nie! Verder speel ons lekker opwindende speletjies en daar is hope pryse wat gewen kan word.

Ons leer hier van Jesus deur die gebruik van treffende kykstof en pret-rympies, en ons sluit af met ‘n kleurvolle tekenprentstorie. Aan die einde van die byeenkoms wag daar op elkeen ‘n verrassing, en jy kry ook ‘n werksblad om huis toe te neem.

Wanneer jy dit volgende Sondag terugbring, kan jy dalk gekies word om aan een van die speletjies deel te neem! Behalwe vir al hierdie dinge, wag daar nog vele meer op jou by Kidzchurch.

Moenie nog wag nie, kom kuier Sondag vir ons by Kidzchurch. Almal is welkom. Sien jou daar!