Press Release

Dit is ‘n nuwe dag in Robertson

King’s Church International was verlede Woensdag [Maart 25, 2009] gestig by ‘n spesiale gemeente vergadering in die Robertson Laerskoolsaal.

Filadelfia gemeente het die naam King’s Church International aangeneem na ‘n ses jaar verbintenis met King’s Church International in Windsor, Engeland, naby London.

Gedurende daardie tyd het die gemeente in Robertson, ‘n veelrassige gemeente geword en is daar met nuwe bedieninge begin, onderandere die Kids Church [kinderkerk] wat gereeld deur 400 plus kinders, vanuit die dorp en omgewing, bygewoon word.

Die ‘troue’ tussen die kerke was voorafgegaan deur die troues van die twee dogters, Wilana en Vasti, asook die seun Drikus, van Gert en Lina Erasmus, die senior Pastoorspaar van die Robertson Gemeente, met die twee seuns en dogter van Wes Richards, die senior Pastoor van King’s Church International in Windsor, Engeland.

Pastoor Gert het gese: “God het ons op ‘n bonatuurlike wyse met King’s Church International in Engeland verbind. Daardie gemeente het deur hulle uitreiking na ons die profesie oor die gemeente uit Jesaja 60:10 vervul nl.” Buitelanders sal julle mure help bou...”. So het ook ander Skrifte verwys na nuwe dinge wat die Vader sal doen.

Onder die apostoliese bediening van Pastoor Wes Richards het ons baie positiewe veranderinge in ons gemeente ervaar. Deur sy leiding en die spanne wat gereeld, op eie koste, na die gemeente uitgereik het, het ons as gemeente baie geleer van wat dit beteken om as seuns en dogters van die Vader, asook as burgers van Sy Koninkryk,  te leef.

Ons het baie van God se liefde deur King’s Church International beleef en ons het besef dat dit God se wil is dat ons saam verbind word onder een naam, ‘n naam wat verklaar dat Christus koning is oor alle mense van alle nasies.

Pastoor Wes, wat in 2004 gevra was om die gemeente in Robertson apostolies te lei het gese:”Ons het die hand van God gesien beweeg, om nie net die drie paartjies te verenig nie, maar ook die twee gemeentes in Suid Afrika en Engeland.

Ten spyte van die betreurenswaardige geskiedenis van ons twee nasies, het daar ‘n  gemeenskaplike liefde tussen ons ontstaan deur ons verbintenis met Christus en Sy Koninkryk.

Die nuwe King’s Church International gemeente in Robertson sal nie ‘n Afrikaanse gemeente wees nie, hoewel die hooftaal Afrikaans is. Maar dit sal ook nie ‘n Engelse gemeente wees nie. Dit sal ‘n internasionale gemeente wees waar mense van alle kleur en nasionaliteite welkom sal wees.

Ons hart en visie is nie om godsdienstige kerk te wees nie, maar ‘n kerk wat die genade van God ondervind en deur God se liefde oral na alle mense uitreik, deur woord en daad.